Middellandse See
Die Middellandse See (die naam is afgelei van die oorspronklike Latyn mare mediterraneum) maak deel uit van die Atlantiese Oseaan, alhoewel dit net deur die Seestraat van Gibraltar met dié oseaan verbind word en andersins 'n binnelandse see vorm, wat die vastelande van Europa en Afrika van mekaar skei. Deur die Dardanelle, die See van Marmara en die Bosporus word dit ook met 'n aangrensende kleiner binnelandse see, die Swartsee van Oos-Europa, verbind. Die water van die Middellandse See beslaan 'n oppervlakte van 2 331 000 vierkante kilometer; die afstand tussen sy uiterste westelike en oostelike punte is sowat 3 520 km en die grootste afstand in 'n noord-suidrigting is 1 120 km. Die Middellandse See bereik sy diepste diepte in die Ioniese See op meer as 5 000 m.
Die see word in twee groot bekkens verdeel, die Westelike Hoofbekken met die Baleariese of Iberiese See in die weste en die Tirreense See in die ooste, en die Oostelike Bekken, wat die Ioniese See met die Adriatiese See en die Levantynse See met die Egeïese See insluit.
Die grootste eilande is Korsika (Frankryk), Sardinië en Sisilië (Italië), die Baleariese Eilande (Spanje), Kreta en die Ioniese eilandgroep (Griekeland), Siprus en Malta.
Ontstaan en reliëf
[wysig | wysig bron]


Die Middellandse See word in 'n oostelike en westelike gebied verdeel deur 'n oseaanrug op die bodem (360 m diep) van die Straat van Sisilië, tussen Kaap Bon (noordoos van Tunisië), Kaap Lilibeo (naby Marsala op Sisilië) en die noordkus van die Straat van Messina. Omdat hierdie deurgange maklik verdedigbaar is, was dit nog altyd van groot strategiese belang in die geskiedenis van die Middellandse See.
Die Straat van Gibraltar, 320 m diep en 13 km breed, tussen Kaap Trafalgar (in Suid-Spanje) en Kaap Spartel (in Noord-Marokko) word as ’n integrerende deel van die Middellandse See beskou. Die Middellandse See is die grootste oorblywende fragment van die Tethyssee, wat ongeveer 65 miljoen jaar gelede gevorm is in 'n trag wat van oos na wes in die aardkors geloop het. Hierdie see het Europa van Afrika geskei en het verder dwars gestrek deur die Midde-Ooste en Suid-Asië tot by Mianmar.
Die Middellandse See bestaan dus van wes na oos uit ’n aantal bekkens, naamlik die Algerynse, die Tirrheense, die Ioniese en die Levantynse. Die kuste van die bekkens is in die afgelope twee miljoen jaar sterk beïnvloed deur bewegings van die see, deur afwisselende tye van afsetting en erosie en deur die styging en daling van die kontinente. Dit het verskillende kustipes tot gevolg gehad. Italië het twee miljoen jaar gelede aansienlik gestyg, waardeur die rotsagtige kus aan die Adriatiese kant ontstaan het.
Die granietagtige noordooskus van Sardinië en die Dalmatiese kus is voorbeelde van geërodeerde land wat gedaal het en waardeur 'n aantal eilande parallel met die kus ontstaan het. ’n Kontinentale plat word slegs op ’n paar plekke aangetref, onder meer in die Golf van Lion, die Golf van Valencia, die Golf van Sirte (voor die kus van Libië) en voor die Nyldelta.
Hier is die see vlak vanweë sediment wat deur die riviere afgevoer word. By Algerië daarenteen word reeds 20 km van die kus af 'n diepte van 2 750 m gemeet en tussen Algerië en Majorka 3 000 m, in die Ioniese See 4 632 m en in die Levantynse See 3 865 m. Vanweë voortdurende beweging in die seebodem en die verskuiwing van die kontinentale plate teen of oormekaar word die Middellandse See dikwels deur aardbewings en vulkane geteister.
Voorbeelde van kontinentale plaatbeweging word onder meer by die Alpe en die Himalaja aangetref en dit is die bron van talle aardbewings. Onder die eiland Kreta, soos ook in ander gebiede onder die oseane, word aardbewings veroorsaak deur oseaanbodembeweging.
Die beweging het sy oorsprong diep onder die aardkors, waar warm, plastiese mantelmateriaal deur die korsgesteentes dring en ook verantwoordelik is vir konveksiestrome. Hierdie konveksiestrome word vandag algemeen beskou as die meganisme waardeur die kontinentale plate as 't ware op ’n vervoerband ronddryf.